jy strek soos ’n bergketting
oor die landskap van my lewe
jou punte en jou wolke sluit my einders in
soms so digby dat ek jou in verbeelding
met die vingers aan kan roer
soms so ver dat die tyd geen sin
meer het nie
ek weet die vrede lê in jou
die son kom uit jou klowe op
en sink weer daarin weg
wanneer dit aand word kan ek jou ruik
jou soetigheid maak my hart ’n klipspringer
en hoog teen jou spitse spoel die nabye
spoel die hemel se skuim